NUUS VRYSTELLING 6 JUNIE 2017

06 Jun 2017

 

NUUSVRYSTELLING: 6 JUNIE 2017

Wynopleiding op jou vingerpunte

Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf kan nou alle vordering rondom opleiding en ontwikkeling in een sentrale plek vasvang en vind danksy die bekendstelling van ʼn intydse Leerderbestuurstelsel (LMS).

“Wynprodusente en kelders lei reeds jare lank hul mense op, maar was tot dusver nie in staat om die effek van hierdie groei en die waarde wat dit tot die wynbedryf toevoeg te meet nie. Dit beteken ook dat hulle nie hul beleggingsopbrengs kon optimaliseer nie,” sê Kachné Ross, leer- en ontwikkelingsbestuurder by Winetech, die besigheidseenheid vir navorsing en tegnologie wat die LMS dryf.

Omdat opleiding tot dusver nie op ʼn sentrale plek vasgelê is nie, is die volle omvang daarvan onbekend. Sommige leerders wat opleiding ontvang het, beskik ook nie oor bewyse van hul opleiding, kwalifikasies of diensrekord nie.

Met hierdie uitdagings in gedagte het die wyn- en brandewynbedryf die internetgebaseerde LMS ontwikkel. Die stelsel stel opleidingsinstansies in staat om hul dienste te adverteer en laai kwalifikasiebewyse op die stelsel soos leerders opgelei word. Sodra ʼn diensverskaffer ʼn leerder se besonderhede vir die eerste keer op die stelsel gelaai het, kan hy of sy op die stelsel inteken om toegang tot hul eie intydse Curriculum Vitae en kwalifikasie-dokumentasie te verkry.

Wynprodusente en kelders kan die LMS gebruik om opleidingsdiensverskaffers op te spoor en geleenthede vir leer en ontwikkeling in hul besighede te identifiseer, van die plaaswerker tot op bestuursvlak. Bedryfsorganisasies is in staat om tendense te identifiseer en kan daardeur beter strategies beplan vir opleiding en ontwikkeling in gebiede waar leemtes bestaan.

Die LMS vorm deel van ʼn omvattende leer- en ontwikkelingstrategie wat uit die Wine Industry Strategic Exercise (WISE) spruit. Die projek is moontlik gemaak deur noue samewerking van en befondsing deur die bedryfsorganisasies Winetech, die SA Liquor Brandowners’ Association (Salba) en Winetech, en word bestuur deur ʼn nuwe Leer- en Ontwikkelingstoonbank by Winetech.

Volgens Kachné sal die LMS ʼn wesenlike effek hê op die manier waarop die bedryf opleiding vorentoe benader. “Die wyn- en brandewynbedryf strewe daarna om ʼn voorkeur-werkgewer vir talentvolle mense te wees. Ons moedig elke rolspeler in die bedryf aan om by die projek in te skakel sodat ons saam aan talentontwikkeling nuwe momentum kan gee,” sê sy.

Besoek die LMS by www.sawineandbrandylms.info.

NAVRAE:
Jamey Adriaanse
Tel: 021 276 0456
E-pos: lms@winetech.co.za